We
ask God to give you complete knowledge of His will and to give you spiritual
wisdom and understanding. Then the way you live will always honor and please
the Lord, and your lives will produce every kind of good fruit. All the while,
you will grow as you learn to know God better and better. (Col 1:9,10)
Matt.12:33:
"Julle moet of die boom goedmaak en sy vrugte goed, of julle moet die boom
sleg maak en sy vrugte sleg; want aan die vrugte word die boom geken."
As
jy die blog lees oor "Leef in God se hart" sal jy sien hoe belangrik
dit is dat ons moet staan in God se hart wat Jesus op die sand getrek het. Wanneer ons saam met Jesus binne-in God se
hart staan, begin ons die eienskappe van God kry, maar ons ontwikkel dit
alleenlik as ons IN God se hart staan.
Dit is Goddelike eienskappe of vrugte soos: Liefde, Vrede, Geloof, Vreugde, Sagmoedigheid. Maar wanneer ons sonder Jesus in 'n hart
staan, staan ons eie gemaakte hart. Dan
het ons daardie hart self met ons eie vinger op die sand getrek. Dis nie die hart wat Jesus op die sand getrek
het nie. Ons gaan uit onsself goeie
eienskappe probeer ontwikkel, maar dis omoontlik om Goddelike eienskappe te
ontwikkel as ons in ons eie harte staan.
Joh 15:4: "Bly in My, soos
Ek in julle. Net soos die loot geen vrug
kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as
julle in My nie bly nie."
Daar
is geen manier dat ons liefde uit onsself kan ontwikkel nie, ons ontvang slegs
ware liefde wat ons weer kan uitleef, wanneer ons in God se hart staan en
wanneer ons wortels in God gevestig is (Blog:
God gewortelde boom). Dan ontvang
ons liefde uit God se hart, ons wortels neem die ware liefde op en ons begin
leef en bestaan uit God se liefde alleen.
God se liefde maak ons eers skoon van binne en dan begin ons al die
ander Goddelike eienskappe ontwikkel d.m.v die Liefde. Dis hoekom Liefde so belangrik is. Sonder God se Liefde is ons niks. 1 Joh 4:16:
"God is liefde; en hy wat in
die liefde bly, bly in God, en God in hom." As ons gewortel is in God, en
ons wortels neem God se liefde op, begin God leef binne ons, en ons word
verander vanaf die natuurlike mens na die geestelike mens. Dan eers kan ons die regte vrugte, die
Goddelike eienskappe begin ontwikkel - deur God se Liefde. Joh 15:5:
"Ek is die wynstok, julle die lote.
Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen
nie." Joh 15:9: "Soos die Vader My liefgehad het, het Ek
julle ook liefgehad. Bly in hierdie
liefde van My"
Wanneer
ons gewortel raak in God, ons ontvang God se liefde en ons begin so na aan Hom
leef, sal jy begin om God se hartklop vir jou te ken en te verstaan. Die liefde van God wat ons deur ons wortels
opneem, is die bloed van Jesus. Jesus se
bloed begin vloei deur ons are. Dit
reinig ons van alle ongeregtigheid en begin ons verander na die beeld van
Jesus. En dan eers begin ons Goddelike vrug dra.
Joh
15:2: "Elke loot wat in My nie vrug dra nie, neem Hy weg; en elke loot wat
vrug dra, die maak Hy skoon, sodat dit meer vrug kan dra. 4 Bly in My, soos Ek
in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die
wystok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. 5 Ek is die
wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want
sonder My kan julle niks doen nie. 8 Hierin is my Vader verheerlik, dat julle
veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees. 9 Soos die Vader My liefgehad
het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. 10 As julle My
gebooie bewaar, sal jule in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van My Vader
bewaar en in Sy liefde bly. 12 Dit is My gebod, dat julle mekaar moet liefhê
net soos Ek julle liefgehad het. 16 Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek
het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug
kan bly, sodat wat julle die Vader ook al in My Naam vra, Hy julle dit kan gee."
Net
nadat ek die stukkie getik het, sit ek die radio aan en die man sing: "Hy
dra my op Sy hande en Hy tel my op Sy skoot sodat ek my kop teen Sy bors kan lê
en ek Sy hartklop kan hoor." Dis is verseker nie per toeval nie, die Here
se begeerte is dat elkeen op so plek moet kom in verhouding met Hom dat jy in
die Gees op Sy skoot kan klim en presies God se hartklop vir jou kan hoor. Dit
is moontlik, niks is onmoontlik met God nie.
In
ons eie hart
Elkeen
van ons staan nie van die begin van ons lewe saam met Jesus in God se hart
nie. Daar kom 'n tyd in elkeen se lewe
wat God ons "roep" om in Sy hart te kom staan. God kan enigiets gebruik om ons in te nooi in
Sy hart nie. Soms is dit baie slegte
omstandighede, ander kere stuur die Here iemand oor jou pad om 'n woord of
saadjie in jou hart te plant. Hoe God
dit ook al doen, op 'n seker stadium in almal se lewe nooi God jou in om in Sy
hart te kom staan sodat jy Sy liefde kan opneem deur jou wortels en Hom kan
begin leer ken.
Voordat
ons die aanbod van God aanvaar om saam met Hom in Sy hart te staan, staan ons
nog in ons eie hart wat ons self om ons getrek het op die seesand. Ons probeer geluk vind in wêreldse dinge,
verhoudinge, rykdom, aansien en eer……
Ons probeer alles self doen, ons wil self in beheer wees van ons lewe,
ons neem alleen alle besluite, ons maak keuses uit onsself sonder om vir God te
ken in ons besluite. En wanneer dinge dan skeef loop, wil ons weet waar is God,
en wil ons by God weet hoekom alles dan so skeefloop in ons lewe? Maar eerstens
het ons nie God geken in die saak nie, dis omdat ons besluite geneem het sonder God.
Wanneer
ons so alleen in ons eie hart staan, probeer ons baie hard om self die vrugte
van die Gees te ontwikkel soos liefde, vrede, geduld ens. En soms kry ons dit
reg om hierdie vrugte uit ons eie te genereer, maar dis van korte duur omdat
dit nie van God af kom nie. Dit is nie die ware Goddelike vrugte nie, dit is
vrugte wat van korte duur is. As iemand
ons seermaak of ons opsetlik te na kom, kan hierdie vrugte van ons skielik
verander in baie lelike vrugte, vrot vrugte soos haat, wraak, bitterheid,
onvergewensgesindheid ens… Dit is omdat
dit nie blywende vrugte is wat afkomstig van God is nie.
God
is barmhartig en genadig. Hy nooi elkeen
in om in Sy hart te kom staan. Gee net
gehoor wanneer die Here roep. Hy wil aan
elkeen die geleentheid gee om gewortel te raak in Sy hart sodat Sy liefde deur
jou kan begin vloei en jy Goddelike vrug vir Hom kan begin dra.
Gal
5:22: "Die vrug van die Gees is
liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid,
sagmoedigheid, selfbeheersing."
>

No comments:
Post a Comment